Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

© P.J. Coetser, Pretoria 1987

31-07-2011 - Nota deur Martie Coetser-Pozyn

Aan die nagedagtenis van my pa, P.J. Coetser (Flip), wat op 30-01-1989 oorlede is, omskep ek hierdie boek wat hy geskryf het in ’n elektroniese boek. Voorlopig ‘blog’ ek hoofstuk vir hoofstuk.

Kopiereg wat deur P.J. Coetser bekom is, behoort tans aan sy eggenote, W.F. Coetser.

Sunday, July 31, 2011

Voorwoord (Kaleshaan)

Genealogiese navorsing verg tyd, opoffering, geld en baie geduld. Nieteenstaande genoemde faktore bly dit egter ’n interessante stokperdjie wat jare lank bedryf kan word. Jare lank in dié opsig dat ’n persoon altyd die stamboom op datum moet hou.

Skrywer, wat ’n nasaat in die negende geslag is van die stamvader Jacob Kützer wat in 1709 in die Kaap aangekom het, en ’n nasaat in die vyfde geslag van Kaleshaan, het daarin geslaag om sy eie geslagsregister volledig na te speur. Dieselfde register is dus ook volledig vir naas-familie soos neefs en kleinneefs, ooms, ensovoorts. Om ’n volledige stamboom van die duisende Coetsers en Coetzers saam te stel is wel moontlik hoewel dit ’n enorme taak sal wees.

Die stamvader van beide die Coetsers en die Coetzers was Jacob Kützer en soos gesien kan word, het sy van ondertussen ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Verskeie faktore het daartoe aanleiding gegee. Baie van die vroeë pioniers kon byvoorbeeld nie lees en skryf nie en gevolglik het die administratiewe beampte verantwoordelik vir die aantekening van ’n naam name neergeskryf soos hy die gehoor het. Dan is daar ook in die vroeë jare in die skryftaal nie veel onderskeid getref tussen ‘c’ en ‘k’, ‘ch’ en ‘g’, ‘s’ en ‘z’ en heel dikwels ook nie tussen ‘d’ en ’t’ nie.

Dit is onbekend hoeveel broers en susters die stamvader gehad het. Dokumente wat in die argief bewaar word, dui daarop dat hy die enigste Kützer is wat Suid-Afrika ingekom het.  

Jacob se ouers was woonagtig te Reichstadt in die Duitse provinsie Boheme. Reichstad se huidige naam is Zakupi en Boheme is die huidige  Tjeggo-Slowakye.

Die inspirasie om hierdie monografie te skryf is grotendeels aangewakker deur die interessante lewe van die baanbreker en Volksraadslid van die ou Zuid-Afrikaanse Republiek, Phillipus Jeremia Coetser (Kaleshaan). Dit is egter nie bedoel om ’n outoritêre verwerking te wees van historiese feite wat vir studiedoeleindes gebruik kan word nie. Dit kan wel, hopelik, deur die nasate van die Lydenburgse Coetserstamvaders gebruik word as ’n aanknopingspunt vir verdere navorsing.

Die inligting wat in hierdie boek vervat is, is oor ’n tydperk van ses jaar versamel en verwerk. In dié verband is skrywer oneindig baie dank verskuldig aan die volgende persone:
  • Die personeel van die argief by die Uniegebou en die RGN – hulle was altyd hoflik en hulpvaardig;
  • Mevrou Etta Judgson, voormalige kuratrise van die Lydenburgse Museum. Die navorsing wat sy oor die Coetserstamvaders gedoen het, was baie werd en het my taak heelwat vergemaklik;
  • Pieter Ernst Kruger (93 jaar oud in 1987), Albert Coetser (80);
  • Mollie Combrink (80), 
  • Catharina Dreyer [Garries] (91), 
  • Maria Coetser (81) 
  • en vele ander Coetser-nasate wat altyd vriendelik inligting verskaf het.
  • 'n Spesiale woord van dank aan Hendrik Coetser (Jood). Sy gasvryheid was vir my ’n riem onder die hart. Verskeie kere het hy my die geleentheid gebied om in die opstal van Hermanus Coetser (Swart Hermaans) te oornag. Die opstal is bykans 110 jaar oud.
  • Laaste, maar nie die minste nie, aan Wilma, my eggenote, wat baie bekers koffie aangedra het en dikwels vir ure lank sonder my geselskap moes klaarkom.
P.J. Coetser
Olifantsfontein
1987-06-23
Datum van foto: 1974 





Verskaf gerus kommentaar hieronder, of kontak my via e-pos. Indien jy enige interessante inligting en staaltjies van/oor Coetsers ken, laat weet my gerus. 



Lees Hoofstuk  1 van Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg hier - 
Hoofstuk 1 - Kaleshaan en die Coetsers van Lydenburg
of gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees -  http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html



2 comments:

  1. Mooi gedagte van jou. Sien uit na die res.

    ReplyDelete
  2. Hi Johann! Dit moet een of ander tyd gedoen word - maar net 'n beskeie bydrae vir volk en vaderland :))) Ek 'hoor' al lankal my pa se stem: "Gaan jy dan nou nie eers 'n bietjie moeite doen om jou pa se ou skryfseltjie ook op die watsenaam te sit nie." Hy sou die Internet geweldig geniet het. Kan jy nog onthou wat het navorsing geverg vóór Internet?

    Baie dankie vir jou aanmoedigende kommentaar, Johann. Sterkte ook vir jou joppie in hierdie lyn.

    ReplyDelete