Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

© P.J. Coetser, Pretoria 1987

31-07-2011 - Nota deur Martie Coetser-Pozyn

Aan die nagedagtenis van my pa, P.J. Coetser (Flip), wat op 30-01-1989 oorlede is, omskep ek hierdie boek wat hy geskryf het in ’n elektroniese boek. Voorlopig ‘blog’ ek hoofstuk vir hoofstuk.

Kopiereg wat deur P.J. Coetser bekom is, behoort tans aan sy eggenote, W.F. Coetser.

Wednesday, March 21, 2012

Hoofstuk 4 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg)


Die Slag van Bloedrivier   
Veg tot die end …

Verwoesting, moord en plundering bars los by Weenen en Blaauwkrans.  Man, vrou en kind word nie gespaar nie.  Bloed is geproe en die moordlustige barbare ruk op om nog verdere chaos te veroorsaak.  Die moorde op Piet Retief, 67 van sy manne, 4 jong seuns en omtrent 30 agterryers was die begin van hierdie bloeddorstige aanvalle deur die Zoeloes.  Alhoewel die Trekkers geglo het dat Gardiner, die Britse gesant in Natal, en die sendeling, Owen, Dingaan beïnvloed het, bestaan daar geen bewyse daarvoor nie. 

Die Coetsers spring hierdie beproewing vry omdat hulle laer af teen die Tugela was.  Maar die skokgolf van die wrede moorde tref hulle en die ander trekkers sodat hulle inderhaas nader aan mekaar beweeg om sodoende slaggereed vir ‘n soortgelyk aanval te wees.  Die toestand was teen die end van Februarie 1838 dus ver van rooskleurig.  “Die Zoeloemag van tussen agt- en tienduisend man, ervare krygsvolk, was in die nabyheid en die trekkers met hulle gesinne het gesidder.”    (Ibid.: 213)

Op 6 April 1838 het die boerekommando in twee afdelings onder Potgieter en Uys die Tugela in die rigting van Umgungundhlovu oorgesteek.  Onder die manskappe van Uys was die 18-jarige Philippus Jeremia Coetser en sy jonger broer, Johannes Jacobus.  Oorkant die Buffelsrivier word Uys en sy manskappe deur Bongos, ‘n Zoeloe, in ‘n lokval gelei.  Dit was ‘n moeilike en feitlik onbegaanbare terrein en kort voor lank is hulle deur die Zoeloes omring.  Na oorlewering is Bongos daar en dan vir sy verraad doodgeskiet.  Hans de Lange (Hans Dons) wou weet wat die plan is.  Uys antwoord: “Veg tot die end”.   Hulle skiet, retireer, val aan en skiet, maar die oormag is te groot.  Uys word deur ‘n assegaai in die sy getref en verloor baie bloed.  Twee assegaaie tref ‘n man met die naam van Le Roux en hy stort van sy perd af.  In dolle vaart spring Philippus met sy perd oor die lyk van Le Roux.  Aan die anderkant van die sloot slaag Philippus daarin om Andries Gouws, wat swaar gewond is, weg te kry.  Vier dooies moes hy agterlaat.  Vir Uys en sy seun, Dirkie was daar, helaas, geen uitkomkans nie en beide sterf ‘n heldedood op die slagveld.

Dit was die eerste veldtog teen Dingaan en ‘n ramspoedige mislukking.  Potgieter is die sondebok gemaak, en in sy eer geskenk het hy besluit om terug te trek na die wye land wat hy geruil en help verower het. “  (Ibid.: 213)

Philippus Coetser en talle ander burgers moes maar gedweë die vernedering verdra om as die “vlugkommando” bestempel te word.  Hulle sou wel later bewys dat hierdie betiteling onnodig en ongevraagd was.

Die koms van Andries Pretorius was vir die trekkers ‘n welkome gesig.  In hom het hulle ‘n Josua gesien wat die volk van die magte van Dingaan sou verlos.  Hierdie man het dan ook geen gras onder sy voete laat groei nie en binne ‘n  afsienbare tyd het hy ‘n kommando van 400 man gemobiliseer.  Onder hierdie burgers was Philippus Coetser en sy broer, Johannes Jacobus.

Die geskiedenis leer dat daar nie alleen op mensekrag staat gemaak is nie.  In die vaste geloof dat God regeer, het die kommando, onder leiding van Pretorius en Cilliers, op Sondag, 9 Desember by Wasbank byeengekom en ‘n plegtige gelofte afgelê.

Pretorius het op ‘n uiters geskikte plek aan die Ngome, die latere Bloedrivier – ‘n sytak van die Buffelsrivier – laer getrek.”  (Ibid.: 215).  Op Sondag, 16 Desember vind die slag van Bloedrivier plaas.  Reeds vroeg in die oggend word die een “horing” van die bors van die Zoeloemag te pletter geskiet.  Na ‘n kort onderbreking val die Zoeloes weer aan, maar ly soveel verlies dat hulle op die ou end die aftog blaas.

Ongeveer drieduisend Zoeloes sneuwel gedurende die vroeë oggendure van 16 Desember en Dingaan se mag is grotendeels gebreek.  Andries Pretorius doen opvolgwerk en die trekkers was vir die huidige in geen noemenswaardige gevaar nie.  Inteendeel, die grootste gevaar het by Port Natal gelê waar Majoor Charters reeds op 4 Desember met sy troepemag aangekom het. Goeweneur Napier het hom, sonder magtiging van Engeland, gestuur om, soos Andries Stockenstrőm dit voorgestel het, “die inboorlinge te beskerm en bloedvergieting te voorkom”.

Die laers aan die voet van die Drakensberge is opgebreek en na Pietermaritzburg verskuif.  So beland die Coetsers ook in hierdie omgewing en soos vele ander trekkers help hulle ook met die opbou van ‘n Voortrekkerstaat.

Philippus Jeremia Coetser onderskei homself vroeg-vroeg al as ‘n kenner van die Bantoetaal en word gevolglik deur die Volksraad as amptelike tolk aangestel.  (Volgens oorlewering is hy tydens die slag van Bloedrivier ook deur Pretorius as tolk gebruik).

Na alle waarskynlikheid het die Coetsers en hul stiefvader, Jan Mathys de Beer, landbouers geword, ‘n nering wat hulle die beste geken het.  Waar presies die grond was waarop hulle vir ‘n wyle geboer het, is nie bekend nie want met die tweede Groot Trek is die grond tien teen een net so laat lê of is dit dalk vir ‘n appel en ‘n ei van die hand gesit.

Op 3 November 1838 tree Philippus Jeremia Coetser met Johanna Adriana Venter in die huwelik.  Philippus het daarna met alle erns begin om sy eie nessie te skrop.  Dit sou egter vir sommige van die Coetsers nie beskore wees om in Natal wortel te skiet nie.  Die anneksasie van Natal het die gevaar ingehou dat die trekkers weereens onder Britse gesag sou staan.  Hiervoor het hulle nie kans gesien nie.  Die grond was duur gekoop - met bloed!

’n Vrouedeputasie, met Erasmus Smit se vrou aan die hoof, het Cloete verseker dat hulle nooit aan die Britse gesag sou onderwerp nie, en waar verset tevergeefs mag wees, sou hulle liewer ‘kaalvoet oor die Drakensberg teruggaan na vryheid’ as om onder Britse bestuur in Natal te bly”.  (Ibid.: 229)

In 1843 besef die trekkers maar te goed dat Natal vir hulle verlore was.  Voorbereidings vir ‘n tweede Groot Trek word getref en sommige van die Coetsers skaar hulle by hierdie besluit.

Jan Mathys de Beer, sy gade Elsje Magdalena Jordaan, en die hele Coetser gesin kom tot die besef van die hopelose toestand in Natal as gevolg van Britse inmenging.  Die gevolg:  Pak die waens en trek!

Die voorafgaande gebeurtenisse, hier in ‘n neutedop saamgevat, word in Hoofstuk 6 in die artikel oor Kaleshaan, in meer detail herhaal.

~~~~~~~

Erkenning aan:
Ansie Kruger Coetser  vir die tik van hierdie hoofstuk.   
Foto: Die slag van Bloedrivier  


Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html


No comments:

Post a Comment