Kaleshaan en die Stamvaders van die Coetsers van Lydenburg

© P.J. Coetser, Pretoria 1987

31-07-2011 - Nota deur Martie Coetser-Pozyn

Aan die nagedagtenis van my pa, P.J. Coetser (Flip), wat op 30-01-1989 oorlede is, omskep ek hierdie boek wat hy geskryf het in ’n elektroniese boek. Voorlopig ‘blog’ ek hoofstuk vir hoofstuk.

Kopiereg wat deur P.J. Coetser bekom is, behoort tans aan sy eggenote, W.F. Coetser.

Sunday, December 9, 2012

Hoofstuk 6 (Kaleshaan en die stamvaders van die Coetsers van Lydenburg)

Die skrywer, Phillippus Jeremias Coetser op 22 jarige ouderdom (1957)



Die Stamvaders van die Lydenburgse Coetsers 

Philippus Jeremia Coetser (Kaleshaan)
Kinderjare

…“Vir die voortbestaan van die boerdery was sy aangewese op haar seun …

Op ‘n plaas in die Klaas Smithsrivergebied naby Cradock word op Woensdag, 
24 November 1819, die tweede kind van Johannes Jacobus Coetser en Elsje Magdalena Jordaan gebore.  Ook vir hulle was dit sekerlik ‘n blye dag want dit was immers hulle eerste seun!


Die seun word op 28 Desember 1819 op Cradock gedoop as Philippus Jeremia Coetser.  Van ‘n kerkgebou was daar op daardie stadium geen sprake nie en die doopplegtigheid het heelwaarskynlik in “’n ruim vertrek van die pastorie” plaasgevind en is deur Ds. John Evans, die eerste leraar van Cradock, bedien.

Baie jare later, as Volksraadlid van die SAR, verkry Philippus die bynaam van “Kaleshaan” na aanleiding van die eenperd-kar wat hy as vervoermiddel gebruik het.  Die oorspronklike Swazi-naam was Kaleshane.  Vervolgens word daar deurgaans in hierdie artikel gepraat van “Kaleshaan”.



Kaleshaan se vader, Johannes Jacobus, sterf in 1833 in die ouderdom van 
36 jaar.  Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.  Het hy dalk tydens een van die vele strooptogte van die swartmense omgekom of was sy heengaan te wyte aan een of ander siekte?  Op hierdie en talle en ander tergende vrae sal moeilik ‘n antwoord gevind word want daar bestaan bitter min rekords uit daardie tyd.


Johannes laat sy vrou en ‘n kroos van 8 kinders agter.  Sy afsterwe moes vir haar ‘n harde slag gewees het want dis in die daardie tydperk dat die grens-ellende besig was om ‘n klimaks te bereik.  Vir die voortbestaan van die boerdery was sy aangewese op haar seun, Kaleshaan.  Op die ouderdom van 
13 jaar was hy, soos vele ander seuns van sy ouderdom, reeds ‘n knap jong boer wat dikwels in die afwesigheid van sy vader die boerdery moes behartig.


Dat die weduwee van Johannes baie probleme in die gesig gestaar het, is waar.  Dit is egter ook ‘n feit dat daardie vroeë pioniers aan die Oosgrens nie maklik tou opgegooi het nie en maar steeds met vasberadenhied vorentoe gebeur het.  ‘n Mens kan met veiligheid aanvaar dat Elsje Magdalena met dieselfde onwrikbare houding die toekoms tegemoet gegaan het.

Sy bly egter nie lank eensaam nie, want ongeveer 15 maande na die afsterwe van Johannes tree sy op 2 Maart 1834 met Jan Mathys de Beer in die huwelik.

Nieteenstaande die feit dat daar weer ‘n vader, alhoewel stief, aan die hoof van die Coetser-gesin staan, raak toestande op die plaas, as gevolg van die grensprobleme, daagliks hagliker.

Om herhaaldelik ‘n vernielde boerder na die strooptogte op te bou, moes sekerlik ook die mees geharde grensboer tot moedeloosheid en wanhoop gestem het.  Daar bly dus vir die Coetsers en hul stiefvader niks oor as om te trek nie.

Jan Mathys geniet ‘n mate van aansien onder die burgers want hy word as voorman van ‘n trekgeselskap gekies.  Dat hy ‘n knaphandige man was lei geen twyfel nie want jare later word hy deur die regering van die ZAR as waterfiskaal aangestel.  Ook sekere bouwerke word aan hom opgedra.

Stadig maar seker beur die trekgeselskap vorentoe tot oor die Oranjerivier.  Later sluit hulle by die trekgeselskap van Gerrit Maritz aan en nog later word hulle deel van die Potgietergroep.

Kaleshaan, Italeni en Bloedrivier

...”Coetser greep daarop zӱn roer en schoot de kaffer zӱn been stuk…”


Toe die Coetsers se waens in beweging gekom het, was Kaleshaan ‘n jongman van so om en by 17 jaar oud.  Soos die meeste van sy tydgenote het hy ‘n redelike skoolopleiding gehad – as ‘n mens dit redelik kan noem.  Gedagtig aan die grensmoeilikhede was skoolgaan seker ook ‘n risiko.  Hy kon lees en skryf en het heelwaarskynlik die grootste gedeelte van sy “geleerdheid” tuis, aan moedersknie, opgedoen.  Die bantoetaal kon hy goed praat omrede hy op die plaas saam met die swartman grootgeword het – ook met hulle leefwyse was hy goed bekend.

Dit dien vermeld te word dat die meeste jong seuns op die ouderdom van 15, 16 jaar nie meer skoolgegaan het nie.  Op die plase het hulle hul plek as volwaardige jong boere volgestaan en die meeste was hul vader se regterhand.  Die meeste dogters van daardie ouderdom was reeds getroud.

Kaleshaan se kennis van die bantoetaal het nie ongemerk verby gegaan nie en een van die eerste persone wat hom as tolk gebruik het, was Piet Uys.

In die begin van 1837 trek die Coetsers saam met ‘n stuk of 36 waens die Drakensberge oor.  Die trek oor die berg was geensins kinderspeletjies nie.  Immers, die geskiedenis leer van die moeilikhede wat die trekkers ondervind het.  Maar met byna bomenslike krag en die vasberadenheid  eie aan daardie stoere pioniers, oorkom hulle die struikelblokke een na die ander.

By die Coetser-waens is dit Kaleshaan, sy jonger broer Johannes – toe 12 jaar oud – en Jan Mathys de Beer wat moes swoeg en sweet om die waens veilig oor die berg te kry.  Na ‘n lang en vermoeiende tog kom die waens in Natal tot stilstand.

Mens en dier geniet ‘n blaaskans en die trekkers het seker met genoegdoening geding aan die Vryheid wat voorlê.  Vryheid?  Die skok van die wrede moord by Blaauwkrans en Wenen tref soos ‘n onverwagte vloedgolf.  Inderhaas pak die trekkers op en beweeg nader aan mekaar om sodoende ‘n versterkte laer te vorm.


Van Vryheid was daar op daardie stadium geen sprake nie en hulle posisie was benard – te meer nog nadat baie van die trekkers se vee gebuit word.  Daar word ‘n veldtog teen die Zoeloes gereël.  Alle oë is gevestig op Uys en Potgieter.  Die kommando word in twee afdelings verdeel.

“Oorkant die Buffelsrivier by Italeni, aan die bo-end van ‘n kloof, ontmoet die kommando ‘n alleenloper Zoeloe met die naam van Bogos.  Hy deel Uys mee dat die Zoeloes in die rigting van Dingaan se stat gevlug het en dat hy (Bongos) aan Uys sou wys waar die gesteelde beeste was.  Laer-af in die kloof gewaar die kommando ‘n 300-tal Zoeloes wat inderhaas die rieme neerlê.  Die kommando sit hulle agterna maar toe hulle die onderent van die kloof bereik, merk hulle met ontsteltenis dat hulle in ‘n lokval gelei is en deur duisende Zoeloes omsingel was.  Volgens oorlewering is Bongos daar en dan vir sy verraad doodgeskiet.”  (J.P. Coetser, Dagboek)

Piet Uys gee bevel dat die burgers moet veg tot die dood toe.  Kommandant Hans de Lange (Hans Dons) jaag met ‘n aantal burgers om by die kloof uit te kom.  Dit was egter nie so maklik nie want telkens moes hulle van die perde afspring en ‘n pad vir hulle makkers wat in gevaar was oopskiet.  Uys, wat deur ‘n assegaai in die sy getref is en reeds baie bloed verloor het, stort van sy perd af.  Sy seun Dirkie gewaar sy wanhopige toestand en snel hom te hulp.  Die oormag was egter te groot en pa en seun sterf ‘n heldedood.


Die res van Uys se manne vlug in aller yl en bereik een van die gevaarlikste plekke op hul terugtog, ‘n diep sloot met dik sandbanke!  Daar was slegs een plek waardeur die burgers een-een kon deurjaag.  Sy aan sy staan die burgers by daardie plek en skiet die aanstormende Zoeloes terug om sodoende hulle makkers ‘n kans te gee om deur die sloot te kom.  Duskant die sloot lê vier gesneuweldes, onder andere ‘n sekere Le Roux met twee assegaaie in sy liggaam.  In sy dolle vaart om van die vyand te ontvlug, slaag Kaleshaan net betyds daarin om oor die lyk van Le Roux te spring, anders kon die perd die lyk sleg vermink en ook moontlik gestruikel het en sy ruiter afgegooi het.  Aan die oorkant van die sloot skiet die burgers dat dit bars en gee sodoende aan hulle makkers ‘n kans om veiligheid te bereik.

Wat ‘n jammerte tog dat in die hitte van die stryd dinge soms so verkeerd kan uitloop!  “’n Sestigtal burgers van die Potgieterkommando onder bevel van Kommandant S.L. het ‘n maklik ontvlugting gehad maar nie die moeite gedoen om terug te keer om hulle makkers uit hul verknorsing te red nie.”  (Ibid., Dagboek)


Die slag van Italeni was vir die burgers ’n verskriklike vernedering en dit was ook ‘n jammerte dat Potgieter, as gevolg van ‘n klein klompie onverantwoordelike burgers, die sondebok gemaak is en die blaam vir die nederlaag gekry het.

Vir ongeveer 7 maande lank sukkel die trekkers om wortel te skiet in Natal, maar as gevolg van die Zoeloegevaar moes hulle in die laers bly.  Van tyd tot tyd was daar kleinere skermutselings met beesrowers en met diesulkes het die burgers hulle hande vol gehad.  Die laers was goed verskans en het later ook elkeen sy eie naam gehad, onder andere Sooilaer, Veglaer, Wagelaer, Paallaer, Modderlaer, ensovoorts.  Die Coetsers was met tye in Sooilaer, Veglaer en Modderlaer.

http://www.allexplore.com/id822.htm

Met die koms van Andries Pretorius in November 1838 het daar opnuut hoop opgevlam.  “In hom het die trekkergemeenskap ‘n Josua gesien wat hulle van hulle vyande sou red.”  As berekende militaris laat hy geen gras onder sy voete groei nie.  Hy versamel ‘n kommando van om en by 460 burgers.  Met biddende opsien tot die Almagtige lê die kommando, onder leiding van Sarel Cilliers, een van die indrukwekkendste geloftes van alle tye af.

Vasberade ruk ‘n kommando op na die slagveld wat deur Pretorius self bepaal wou word.  Onder daardie begeesterde burgers is Kaleshaan en volgens oorlewering ook sy jonger broer Johannes Jacobus.

Op Sondag, 16 Desember 1838, nog voordat dit behoorlik lig was, bekruip die Zoeloes die laer maar word met verpletterende gevolge gestuit.  Hulle het teruggeval om kajuitraad te hou en tydens die onderbreking stuur Pretorius sy seun en Kaleshaan om die toestand van die vyand te gaan waarneem.

Kaleshaan daag die Zoeloes om man teen man te veg want hulle (die Zoeloes) het nie te doen met weerlose vroue en kinders soos by Blaauwkrans nie.  Een van die Zoeloegeneraals skree terug dat hy weet waneer om aan te val en dat hy die waens tot as sal laat trap.  “Coetser greep daarop zӱn roer en schoot de kaffer zӱn been stuk, die daarop door anderen gerepen werd en onder zӱn kommando werd ingebring…” (Preller, 1925: 51).

Die Zoeloes val weer aan maar die verwoede geweervuur van die burgers skiet hulle aan flarde, met die gevolg dat hulle in alle rigtings vlug.  Dit was die begin van die einde van die Zoeloemag.  Baie verlig kon die trekkers eindelik die laers opbreek en Natal dieper intrek.  Duurgekoopte grond word in besit geneem en die boerdery word in alle erns begin.  Die Coetsers en hul stiefvader woon êrens tussen Estcourt en Pietermaritzburg.

Die goeie werk wat Kaleshaan as tolk onder die Trekkers verrig het, was heelwaarskynlik die rede waarom die Volksraad hom in Augustus 1840 as hulle amptelike tolk aangestel het.  Dié pos het hy met groot bekwaamheid beklee.

******

Kaleshaan het op 3 November 1838 met Johanna Adriana Venter in die huwelik getree.  Sy was die dogter van Marcus Albertus Venter wat later by Makapanspoort vermoor is.  Die huwelik is stellig deur eerwaarde Erasmus Smit voltrek.  Op daardie stadium was hy die enigste leraar wat na die geestelike behoeftes van die trekkers omgesien het.

Die jong egpaar sou egter nie wortelskiet in Natal nie want Engelse inmenging het veroorsaak dat baie boere weer opgepak en getrek het.  Ook die Coetsers, met hulle stiefvader Jan Mathys, weier onverbiddelik om onder Engelse gesag te staan en in 1845 verlaat hulle Natal met die Potgietertrek.


KALESHAAN IN TRANSVAAL





… “65 burgers onderteken ‘n memorie waarin die Volksraad versoek is om hom vanweë sy invloed onder die swartes as Kommandant-Generaal aan te stel…”


Die wrok wat die Trekkers teen die Britse gesaghebbers gekoester het vanweë Brittanje se onvermoë om die Trekkers regverdig te behandel en hulle toe te laat om hulle lewens en besittings teen wettelose barbare te beskerm, moes op daardie stadium weens die hernieude inmenging in Natal stellig gegrens het aan haat.  Omrede hulle diepe Christelike inbors het hulle selde toegelaat dat haat oorgaan in geweld – dan maar liewers weer trek en die afstand tussen hulle en die Engelse so groot moontlik maak.

In 1845 land die Coetsers en ander trekkers op Ohrigstad – aanvanklik Andries Ohrigstad genoem.  Hulle moes gemeen het dat hulle eindelik aan die einde van hulle swerftog gekom het maar, helaas, “De Geele koors” soos Potgieter die siekte genoem het, verdryf meeste van die nedersetters na hoër en gesonder gebiede.


Die Coetsers is onder die eerstes om die ongesonde area te verlaat.  Dit wil voorkom of hulle nie hul plaas, soos baie ander boere, verkoop het nie want jare later, nadat hulle in Lydenburg en omstreke hulself gevestig het, het hulle in die wintermaande na Ohrigstad teruggekeer en daar houtwerk verrig.

Ongeveer 6 kilometers vanaf Ohrigstad, op die pad na Burgersfort, is ‘n bosryke streek met die naam van Coetserskloof. Daar het hulle die hout van die Kaffer-wag-‘n-bietjie-, Olien-, en Rooi-Ivoorbome verwerk en waens herstel, asook meubels en talle ander nuttige artikels wat op die plase gebruik is, gemaak.

Die Coetsers met hul stiefvader, Jan Mathys, vestig hulle hoër op langs Sterkspruit.  Johannes Jacobus, jonger broer van Kaleshaan, bekom die plaas Rietspruit wat later vir die nuwe dorp, Lydenburg, onteien sou word.



Johannes Jacobus Coetser, eienaar van plaas Rietspruit waarop Lydenburg in 1849 aangelê is

Op Sterkspruit begin Kaleshaan en sy stiefvader met alle erns met die boerdery.  Om hulle by te staan is Kaleshaan se ander broers, Petrus Willem – toe 18 jaar oud, Johannes Petrus (Jan) – toe 17 jaar oud en Hendrik – toe 16 jaar oud.  Die halfbroertjie, Johannes de Beer en Kaleshaan se krosie van vier was op daardie stadium nog te jonk om veel van hulp te wees en het maar onder die wakende oog van moeder en ouma kleiner takies, wat by hul ouderdomme gepas het, verrig.

Kaleshaan was ‘n ywerige boer en het ook groot belangstelling in die politiek gehad.  Hy was ‘n goeie en beredeneerde spreker wat by sy standpunt gehou het.  Reguit en op die man af het hy nie geskroom om sy standpunte enduit te verdedig nie.  Soms wil dit voorkom of hy ‘n hardvogtige persoon was maar te oordeel aan sy liefde vir sy gesin en familielede, sy populariteit onder die burgers en die agting wat die swartes vir hom gehad het, kan die hardvogtigheid toegeskryf word aan sy reël om by sy standpunte te hou en ook om sy gesin se belange eerste te stel.

Handskrif van Kaleshaan
Sy aansien onder die burgers het toegeneem, wat tot gevolg gehad het dat hy as Volksraadslid verkies is.  In September 1849 is hy te Krugerspos ingesweer.  In die Volksraadsnotule van 19 September 1849 is die volgende inskrywing:

“Artikel 1, de Raad opende het vergadering met den aanfang om enige te kort komende leden te laten inzweren, het welk door den Publiek is gekozen, die heere Frans Joubert, Wessels Swartz, Philip Coetser en Marthinus Schoeman…”

Al gou bewys Kaleshaan dat hy nie altyd alles sommer net so aanvaar nie en dat hy enduit by sy standpunte hou.  Met die Volksraadsitting in Januarie 1850 te Potchefstroom, waar hy Lydenburg verteenwoordig het, was hy die enigste lid wat teen die mosie, dat hulle sy broer Johannes se plaas Rietspruit vir die nuwe dorp onteien, gestem het.  Dit was maar een van die talle kere dat hy beswaar gemaak het teen iets wat na sy mening onregverdig was.  Die besware is soms heftig en driftig geopper, tot so ‘n mate dat hy partykeer deur die Volksraad beboet is.

Kaleshaan was ‘n frisgeboude man van so om en by 1.75 meter.  Vir die duiwel het hy nie gestuit nie en sy onverskrokkenheid het soms aan roekeloosheid gegrens.  Hierdie eienskap het groot respek onder die Swazi’s afgedwing.  Hy was by uitstek ‘n kenner van die swartman en hulle leefwyse.  Hul taal kon hy goed praat en daarom is hy by verskeie kere aangestel as lid van ‘n kommissie om met die swartmense te onderhandel.

Die jong Volksraad van die ZAR begin onmiddelik om betrekkinge met die Portugese tot stand te bring.  Briewe van die Goeweneur J.A. De Andrade laat die hoop opvlam dat hulle eindelik los is van die juk van die Engelse; dat hulle die nodige voorrade vanaf die Portugese kan invoer en dat hulle een vrye staat sal word wat hulle eie sake sou beheer.

Die Volksraad benoem ‘n kommissie om sy antwoord na De Andrade te neem en verdere onderhandelinge aan te gaan.  Kaleshaan word as een van die lede benoem:  “En is tot deze kommissie benoemd en aangesteld den Wel Edele heeren der Edele Raad:  A.T. Spies, C. Potgieter, P.J. Coetser en H.T. Bührman en as tolk en ondersteuner dezer kommissie de heer C. Trichard…”  (Volksraadsnotule 25 Mei 1850).

Onderhandelings het goed afgeloop en die toekoms vir die nuutgestigde Republiek het rooskleurig gelyk.

In September 1853 word Kaleshaan weer aangestel as lid van ‘n kommissie.  Die kommissie moes met die Britse owerheid en Panda, opperhoof van die Zoeloes, onderhandel oor die vasstelling van die suid-oostelike grens.  Die onderhandlinge verloop na wense.  Kaleshaan het as tolk opgetree en dit is na aanleiding van hierdie samesprekinge dat 65 burgers van Lydenburg en omgewing ‘n memorie onderteken het waarin die Volksraad versoek is om hom (Kaleshaan) vanweë sy invloed onder die swartes as Kommandant-Generaal aan te stel.  “Wy ondergeteekende zyn overeengekomen om volgens Uwe Edeles besluit van September laaslede Uwe Edeles kennis te geven dat wy verlangende zyn dat Uwe Edele en moet overgaan om den Wel Edele Heer P.J. Coetser thans lid der wel Edele Volksraad, aan te stellen tot Kommandant Generaal voor het distrik Lydenburg.

Deze onze keuze geschied niet uit oorzaak dat onder de aan ons voorgestelde Heeren Veldkornetten niemand is, die wy als tot deze gewigten post bekwaam achten, maar enkel omrede dat wy onpartydig oordeelende moeten zeggen en overtuigd zyn dat den door onz gekozene Heer Coetser een man is die sich tegenover een vyand door geen vrees laat weerhouden en daarby is Zy Edele zoo bekend met allen kafferzaaken en dezelfs taal, dat wy niemand weten die zoo bekwaam is, en kan zyn, als Zy Edele om allen kafferzaaken te onderzoeken en daarby is Zyn Edele by allen kaffers bekend, en dit door alles gevoelen wy, en zyn overtuigd dat indien de Heer Coetser slechts wil, hy met de hulpe Gods bekwaam is en zyn kan, om zoo veel mogelyk de rondom ons woonende zoo zeer vyandigen kaffernatiën tot hun plicht, en in vrede zal kunnen brengen.”  (Ibid. bylaag 98, 1853)

Onder die handtekening verskyn onder andere die van meester Willem Poen, H.T. Bürman an al Kaleshaan se broers.  ‘n Beter samevatting van een man se kwalifikasies en bekwaamhede soos in hierdie brief saamgevat word, kon seker nie bewoord word nie!

Die ander benoemdes vir die pos as Kommandant-Generaal was W.F. Joubert, P. Nel en Joseph van Dyk.  Op daardie stadium was W.F. Joubert alreeds Kommandant-Generaal.

Die uitslag van die stemmery word deur Landdros J de Clercq aan die Volksraad voorgelê:  Kaleshaan – 65, W.F. Joubert – 40, P Nel – 34 en J van Dyk – 29.  Alhoewel Kaleshaan ‘n meerderheid van 25 stemme bo W.F. Joubert gekry het, kon hy om een of ander rede nie as Kommandant-Generaal aangestel word nie.

Aanvanklik weier Kaleshaan om die amp van Kommandant te aanvaar.  Hy verskyn voor die Kommissieraad wat sy verskoning nie aanvaar nie en gevolglik word hy met 25 Riksdaalders beboet.  “Den Heer P.J. Coetzer voorgekomen zynde, zoo heft den Edele Kommissieraad de verschoning niet angenomen…”  (Ibid. 31.1.1854, Art. 5)

Oplaas het hy die pos as Kommandant aanvaar:  “… onder deze voorwaarde dat Zyn Edele de post zal aanneem voor de tyd van een jaar en als het dan sal blyken dat Zyn Edele te arm en onvermogend mogt zyn , dat het zyn Edele alsdan sal vrystaan om zyn ontslag te mogen vragen en alsdan enlang, en is zulks toegestaan.”  (Ibid. 1.2.1854, Art. 10).

Kaleshaan het geweet dat sy pligte as Kommandant hom dikwels weg van die huis sou neem en daarvoor het hy nie kans gesien nie.  Om onder Joubert te werk het hom nie aangestaan nie want vir een of ander rede het die twee nie langs dieselfde vuur gesit nie.  Daarom het hy gevra om die pos vir een jaar te beproef.

Dat die pos as Kommandant veeleisend was, is nie te betwyfel nie.  Beesrowery veroorsaak dat hy dae lank uithuisig was om spore op te volg in ‘n poging om die diewe te vang.  Struikelblokke het hy teëgekom want so rapporteer hy by geleentheid aan die Volksraad:  “Ik kry de plek waar zÿ de os geslagt heft en toen is ik op die spoor van die kaffers vortgegaan, toen is wÿ door te veelheid van de reegent belet om die spoor te kunnen na te volgt…”  (Terloops:  Kaleshaan het ‘n eienaardige manier gehad om sommige van die e’s te skryf as i.  Daarom vind ons in die notules van die Volksraad dat die Sekretaris dikwels sy van as Coitser aangeteken het).

Nog besig om veediefstalle te ondersoek, benewens sy volksraadsverpligtinge, huislike pligte en ander aangeleenthede word hy weereens as lid van ‘n kommissie gekies.  Dié kommissie is gelas om met Omzwaas, die koning van die Swazi’s te onderhandel oor die vasstelling van ‘n grens.  Die ander opdrag was om met Sincoeba oor vrede te onderhandel.  Sincoeba en sy stam het hulle in die noord-weste van Lydenburg in gate en spelonke, wat slegs aan die stam bekend was, skuilgehou.  Vandaar het hulle die omgewing geterroriseer en selfs die Swazi’s nie ongehinderd gelaat nie.  Dis toe dat die Volksraad besluit het om stappe te neem.  Sy besluite moes gewoonlik “zoo spoedig mogelyk” uitgevoer word en versuim deur die agbare lede het gelei tot boetes van tot 200 Riksdaalders.

Die kommissie moes onder andere ook die versekering van Omzwaas verkry van sy trou en hulp aan die ZAR.  Op daardie tydstip was dit nie ‘n kwessie nie.  Die eintlike probleem was Sincoeba.  Kaleshaan, wat elke keer ‘n huilende gesin wat gedurig vir sy lewe gevrees het, moes agterlaat, was keelvol vir die mooipratery met die swartes en gevolglik weier hy om die opdrag van die Volksraad uit te voer.  Hy gelas ook sy twee veldkornette, 
C. Fourie en A.C. de Beer om te weier.  Dit was in die oë van die Volksraad ‘n ernstige oortreding en aldrie word gedagvaar om voor die Volksraad te verkyn.


Kaleshaan, wat gewoonlik onverbiddelik by sy besluite gestaan het, verskyn voor die tugkomitee en die verrigting het soos volg verloop:

“Daarop is de Ed. Kom. raad en toe overgegaan om te onderzoeken wat de oorzaak is, dat gezegde Heeren niet voldaan hebben an den gegeven order

Waarom de Heer P.J. Coetser Kommandant onverzogt is voorgekomen en zyne, redenen ingekragt heeft waar Z Ed. niet gereden is na de kaffers, dat 

Z Ed. in die beginner geweigend heeft, om na Omzwas te gaan en het later wel aangenomen heeft om te doen, maar tehuis komende vond hy zyne vrouw, moeder, zusters en broeders gedurig in tranen en dat is de reden hy niet ryden kon, en dat hy niet langer achter een vervloekte Kaffer zyn gat sal ryden, en ik bedank op de ongemblik myn post als Kommandant, en zal my onderwerpen aan die straffen, en de raad kan doen wat hy wil.  Welk bovermelde alles op een driftigen en beleedigende toon gesproken word.”  (Ibid. Oktober 1854, Afd. 19).


Kaleshaan word skuldig bevind aan oortreding van die 3de artikel van die Wetsbepaling van Ohrigstad van 7 en 8 Maart 1849.  Hy word met 200 Riksdaalders beboet en moes een van sy erwe op die dorp verkoop om die bedrag by te bring.

Dat Kaleshaan onthef is van die amp as Kommandant moes sekerlik vir hom ‘n vernedering gewees het maar aan die ander kant seker ook ‘n verligting.  Dit het beteken dat hy minder uithuisig sou wees.  Baie lede van die Volksraad was gekant teen die vonnis maar moes gedwee die besluit van die meerderheid aanvaar.  Die aangeleentheid het sy aansien onder lede van die Volksraad en die burgers nie juis veel geskaad nie.  Inteendeel, hy behou sy pos as lid van die Uitvoerende Raad van die ZAR en verrig nog waardevolle werk.

Op 16 Desember 1856 besluit die Lydenburgse Volksraad om hulle onafhanklikheid van die ZAR te verklaar.  Tydens daardie vergadering was Kaleshaan die voorsitter en het hy ‘n leidende rol gespeel.  Daarna is hy met ‘n groot meerderheid van stemme as een van die lede van die Uitvoerende Raad van “De Republiek Lydenburg in Zuid-Afrika”  verkies.  Hy het by verskeie vergaderings as voorsitter opgetree.

Daar is sprake dat hy as President gekies is maar dit kan nie gestaaf word nie.  Dit was moontlik ‘n uitgemaakte saak onder die publiek dat hy wel as president verkies sou word.  Die verkiesing het egter in die kort tydjie wat die “Republiek Lydenburg in Zuid-Afrika”  bestaan het, nie gematerialiseer nie.

Interessant tog is die herinneringe van Catharina Francina  Maria Dreyer (Garries), ‘n kleindogter van Kaleshaan.  Met die skrywe van hierdie artikel was sy 92 jaar oud.  Behalwe vir swak sig geniet sy nog goeie gesondheid.  Sy vertel:  “Toe ek op skool was, het ons ‘n Hollandse onderwyser gehad wat op daardie tyd vir my snaaks opgetree het as ek oor die tou getrap het.  Dan het hy altyd vir my gesê: ‘Nee, dat is niet reg als de kleindogter van de President zoo maak nie’.  Eers later het ek verstaan wat hy daarmee bedoel het. ” 

Op 20 Julie 1859 was Kaleshaan lid van die afvaardiging wat Panda besoek het om hom van hul vriendskap te verseker.  Weereens ‘n bewys dat die Volksraad hom, Kaleshaan, vertrou het om die invloed, wat hy onder die swartmense gehad het, te gebruik.

Die skeiding tussen Potchefstroom en Lydenburg sou egter nie lank duur nie.  Die twee regerings het maar al te goed geweet dat hulle nie verdeeld kon voortgaan nie want om die volk bymekaar te hou moet daar immers eensgesindheid in die Regering wees.  As ‘n verenigde staat sou hulle meer teen ‘n gemeenskaplike vyand kon verrig.  Daarom het hulle opnuut samesprekings tot amalgamasie geloods.

Kaleshaan was Aanvanklik gekant teen hereniging omdat hy nie veel vertroue in M.W. Pretorius gehad het nie.  Later het hy wel die herenigingsvoorwaardes onderteken wat op 24 November 1859 beklink is.  Op 5 April 1860 word hy Lydenburg se eerste verteenwoordiger in die Verenigde Uitvoerende Raad.  Kaleshaan beklee hierdie pos met groot bekwaamheid tot 12 April 1977 toe die ZAR deur Brittanje geannekseer is.

Die anneksasie moes vir die ZAR ‘n bitter pil gewees het om te sluk.  Het hulle dan nie vir Vryheid en onafhanklikheid groot ontberings gely nie?  Die Britse owerheid sou die ellende wat die Boerevolk gely het in elk geval nooit verstaan het nie.  Hoe kon hulle ook?  Duisende kilometers het hulle geskei van die ZAR en hulle moes op hoorsê en briewe reageer en daarvolgens hulle metode van bestuur aan die suidpunt van Afrika aanpas.  Dit is nodeloos om te sê dat daardie metode heel dikwels ‘n totale mislukking was.  Hy gee bevele dat sy troepe soos ‘n bloeddorstige dier op die spoor van die prooi moet bly.  Die Boerevolk was mos eerstens Britse onderdane en Brittanje sou sorg dat hulle dit bly.

Die Volksraad het nietemin sy hande vol met probleme en sou eers in 1881 en weer in 1899 werklik probleme met Brittanje optel.



Kaleshaan en die Sekhukhune-Oorlog

Sekhukhune en familie




In 1872 het Johannes, ‘n broer van Sekhukhune teruggekeer van Botsebelo, naby Middelburg, waar hy by Merensky, ‘n Duitse sendeling aan die sendingstasie aldaar, onderwys ontvang het.  By sy aankoms in Lydenburg het hy van die owerheid toestemming verkry om ‘n sendingstasie te stig op die plek waar die Spekboom- en Dorpsriviere inmekaar vloei.  Dit is om en by 15 kilometer vanaf Lydenburg.

Tandila, koningin van die Amaswazi, het die owerheid gewaarsku dat die sendingstasie van Johannes later ‘n gevaar kan word vir die blankes omdat sy die sluheid van die Umsitu geken het.  Johannes het ‘n skool en ‘n kerk gebou en dit deeglik verskans en dit was ook nie lank nie of die moeilikhede het begin.


 In 1875 vaardig Johannes ewe vermetel ‘n proklamasie uit en annekseer die grondgebied tot aan die Olifantsrivier, Middelburg en Botsebelo.  Hy doen dit in naam van sy broer Sekhukuni ‘n seun van Sekwati.  Hy beweer dat die Swazikoning, Omzwas, geen reg gehad het om die landstreek aan die Boere-immigrante af te staan nie.

Johannes begin ‘n veldtog van rowery van vee, verbranding van huise en ander ongerymdhede.  Die mense word later verplig om in laers bymekaar te kom om hulle teen die vyand te beskerm.

T.F. Burgers, benoem as President, moes krygswet in Lydenburg afkondig.  Ook verander hy ‘n kommando om die onluste te onderdruk.  In die nag van 
3 Julie 1876 het ‘n geveg by Spitskop naby Sabie plaasgevind.  Paul Coetser, ‘n kleinseun van Kaleshaan, sneuwel daar.  Ook word ‘n twintigtal “mak kaffers” met hulle vrouens en kinders wreed vermoor.


Burgers, wat nie kennis van oorlogvoering met swartes gehad het nie, kon nie eensgesindheid onder die burgers kweek nie.  Onluste in die kommando breek uit en die kampanje is ‘n totale mislukking.  Tydens die skermutseling met die swartes sneuwel onder andere Piet Viljoen, Adjudant van Burgers.  Later sterf ook Von Schilkman en ‘n aantal van sy manskappe.

Die toestand in die distrik Lydenburg het so ernstig geword dat die mense besluit het om die Engelse regering om hulp te vra.  Ds. J.G. Kriel van die Hollandse kerk en Eerwaarde Thorne van die Engelse kerk het die dokument opgestel.

Sir Theophilus Shepstone het in Pretoria aangekom en die Volksraad is byeengeroep om die saak te ondersoek.  Baie dinge het na daardie vergadering plaasgevind.  Shepstone het in naam van die Britse regering besluit om Transvaal te annekseer.  Burgers het daarteen kapsie gemaak en selfs na Europa vertrek om die Republiek se saak daar te bepleit maar hy is kort na sy aankoms daar oorlede.  Die Engelse was nie by magte om Johannes en sy trawante, wat in die berge en spelonke geskuil het, te onderwerp nie.

Majoor Clark en Mnr. Cooper, die Magistraat, het besluit om koningin Tandila van die Swazi’s te nader vir hulp.  Johannes Jacobus Coetser en Gideon Broodryk is aangesê om ‘n kommando bymekaar te bring.  Tandila het hulle verwyt dat hulle in die eerste plek nie na haar geluister het nie maar het tog ingewillig om 3 000 man te stuur.  Die hoofindoena was Bevaan en die aanvoerder was Malatiaan.  (Sommige geskrifte praat van Matatiaan.)  Tandila het hulle uitdruklik beveel om nie Lydenburg verby te gaan tensy Kaleshaan die impi’s aanvoer nie.  Omdat Clark en Cooper alreeds vir Kommandant C aangestel het as aanvoerder, het die Swazi’s besluit om terug te trek.  Dit het mooipraat gekos maar eindelik het Clark ingestem dat Kaleshaan die impi’s moet lei.

Voordat Johannes se stat ingeval is, is daar krygsraad gehou.  Daar is besluit dat Kommandant C en sy manskappe op Vaalkop duskant Krugerspost stelling sou inneem en die stat met kanonne bestook.  Van Lydenburg se kant af sou die impi’s die stat bestorm en Kommandant C sou dan dieselfde vanaf Vaalkop doen.  Kaleshaan verdeel die Swazi’s in drie seksies van ‘n duisend man elk.  Met ‘n woeste geskree val hulle die stat vanuit drie rigtings aan.  Dit was eers op daardie tydstip dat die belhamels gewaar het dat die Swazi’s ‘n aandeel in die geveg het.  Die een vleuel van die Swazi’s word teen ‘n krans vasgekeer en ongeveer 80 sneuwel daar.  Na ongeveer ‘n uur is die hele stat ingeneem en het die impi’s korte mette met die oorblywendes gemaak.  Slegs die wat in die spelonke weggekruip het, het ontkom.

Ongelukkig het Kommandant C nie die afgesproke aanval gedoen nie en die Lydenburgers het toe met ‘n nuwe krisis te doen gehad.  Vir die Swazi’s was so ‘n oortreding strafbaar met die dood en hulle het daarop aangedring dat die doodvonnis gevel moet word.  Met die tussenkoms van Kaleshaan is ‘n bevredigende skikking met die Swazi’s getref, maar Kommandant C is vir pligversuim met 500 riksdaalders beboet.

Na die episode met Johannes, broer van Sekhukhuni, het daar ‘n baie goeie verstandhouding tussen die Swazi-hoofde en Kaleshaan bestaan.  Een maal ‘n jaar stuur die Swazi’s aan Kaleshaan ‘n aantal vetgemaakte beeste en hy op sy beurt stuur ‘n vaatjie wyn en ‘n aantal rolle pruimtabak.  ‘n Mens wonder net waar hulle die gewoonte aangekweek het om te pruim!

In 1876, op die ouerdom van 57, is Kaleshaan steeds aktief werksaam in die politiek.  Hy belê ‘n politieke vergadering, heelwaarskynlik om die burgers sover te kry om kapsie te maak teen die voorgeneme anneksasie van Transvaal deur Brittanje.  Tydens daardie vergadering was sy sekretaris Landdros Marthinus Hendrikse wat later na Natal verhuis het.

Na die eerste Vryheidsoorlog (1880 – 1881) word Kaleshaan weer as Verteenwordiger van Lydenburg herkies.  Die pos het hy beklee tot om en by 1885.


Die feit dat Kaleshaan vir bykans 36 jaar in die Volksraad gedien het, by verskeie kommissies betrokke was en telkens geslaag het in sy onderhandelinge met die swartmense, benadruk sy buitengewone bekwaamheid in regeringsake.  Die aantal kere wat hy beboet is vir versuim omdat hy soms traag was om van die huis af weg te wees, het nooit sy aansien onder die burgers geskaad nie.  Inteendeel, om hulle sake te behartig, was hy die vuurvreter so reg na hulle hart.

(Die voorafgaande gebeure is ‘n verkorte weergawe van die gegewens wat in Jan Petrus – Jannie Raadslid – se dagboek vervat is.)

Kaleshaan en familie op kerklike gebied


. . . “ ‘n Trotse oomblik om te aanskou hoe sy seun, Marcus, met Bybel en Gesangeboek in die hand, die optog lei . . .”

Toe Kaleshaan en sy gade in 1848 op Lydenburg aangekom het, het hulle ‘n krosie van 4 gehad.  Die oudste 3 kinders is op Pietermaritzburg gedoop en al die daaropvolgende kinders is op Lydenburg gedoop.

Met die tweede besoek van D A. Murray aan Lydenburg bedien hy op 
7 Januarie 1850 die doop aan 75 kinders.  Onder hulle vind ons Phillippus Jeremias en Elsje Magdalena, onderskeidelik die 4de en 5de kinders van Kaleshaan en Elsje Magdalena.


Die twee besoeke van Ds. Murray aan Lydenburg was vir die nedersetters soos manna uit die hemel.  Uitgehonger om die Woord van God uit Sy dienskneg se mond te verneem, stroom hulle in hulle honderde na sy eredienste.  Afgesien daarvan dat hy die eredienste behartig, verrig Ds. Murray ook die ander noodsaaklike kerklike dienste.  Uit die 79 katkisante wat aansoek om lidmaatskap doen, word 49 aangeneem en 109 kinders word gedoop.  Voorwaar, Ds. Murray, konsulent van Lydenburg, het in die paar dae wat hy tot sy beskikking gehad het – hy moes die Maandag weer vertrek – lanklaas so hard gewerk om al die kerksake in order te kry.  Die mense smeek hom, selfs met trane in die oë, om as hul leraar aan te bly, of as dit nie kan nie, hulle dan nogmaals te besoek.

In hierdie verband skryf ds. Murray aan sy vader :  “Toen ik zei dat ik hoopte da zy weldra door een andere leraar zouden worden bezorgt, gaf een vriend ten antwoord: Maar is dan een jaar niet een al te lange tyd om honger te lÿden?  Hierop kon ik hem geen antwoord geven.”   (Du Toit, 1950:  9)

Met die stigting van Lydenburg het ook die kerksake ‘n aanvang geneem.  Aanvanklik tel Kaleshaan nie onder die kerkraadslede nie, moontlik weens sy pligte as Volksraadslid en die talle ekspedisies wat hy moes onderneem.

Daardie jare was die kerk en die staat egter baie nou verbonde en het Kaleshaan vanuit die Raad se kant sy aandeel gehad in die stigting en bou van ‘n kerk.  Die Volksraad het besluit “. . . om op het nieuw dorp eene gebouw op te richten alwaar Christelÿke Gereformeerde Godsdienst werden uitge-oefend.”  Na aanleiding van hierdie besluit is die eerste kollektelys omgestuur om vondse en materiaal vir die bou van ‘n kerk in te samel.

Kaleshaan het na sy ontheffing as Kommandant, verskeie kere op die kerkraad gedien.  Hy, sy gesin en familie het, soos die oorgrote meerderheid van die nedersetters, ‘n streng godsdienstige lewe gehandhaaf.  Nieteenstaande daarvan was daar egter baie woelinge aan die kerklike front en sou daar dan ook later ‘n skeuring kom.  Dié skeuring veroorsaak dat daar later drie kerke tot stand kom.

Dinge het toe nie so rooskleurig gelyk nie.  Daar was die ontheffing van 
Ds. Van der Hoff as predikant van Lydenburg; die kwessie van onder watter sinode hulle moes val; dat Lydenburg nie as ‘n aparte kerk beskou sou word nie, ensovoorts.


“Op die eerste Sinodale vergadering was Lydenburg deur die volgende persone verteenwoordig: Ds H.J. Neethling, diaken I.J. Breytenbach en ouderling M.A. Coetser, derde oudste seun van Kaleshaan.” (Ibid. bylae: 60).  In latere jare vind jy die name van Hendrik, jongste broer van Kaleshaan, en Louis Hermanus, ‘n kleinseun van Kaleshaan, wat die gemeente op Sinodale- en ook op verskeie Ringvergaderings verteenwoordig het.

Langsamerhand kom dinge egter reg en die gemeentelede begin spontaan saamwerk.  Die strewe om ‘n volwaardige kerkgebou te besit, word ‘n obsessie.  Oud en jonk werk saam om die ideaal te verwesenlik.  “Die boukommissie het bestaan uit Ds. Neethling, die broeders M.A. Coetser, C.C. Coetzee, S.J. Schoeman, J.D. Jankowitz, D.J. Muller, D. Kriel, S.W. Burger en J.J. Schoeman.” (Ibid. : 44)

Die hoeksteen van die nuwe kerk is op 12 April 1890 deur Ds. Neethling gelê.  Vir die gemeentelede moes dit ‘n blye dag gewees het.  Die plegtigheid was vir hulle ‘n bewys dat daar vrug op hulle arbeid was.

Die inwyding van die kerk vind plaas op 14 Oktober 1894:

“Plegtig is die verrigtinge wat vir die geleentheid gereël is.  Om 10 uur die oggend is eers van die kerkgebou afskeid geneem en daarvandaan het die optog na die nuwe kerk daar naby gegaan.” (Ibid.: 45).  Vir die bejaarde Kaleshaan moes dit ‘n trotse oomblik gewees het om te aanskou hoe sy seun Marcus, met die Bybel en gesangeboek in die hand, die optog na die kerkplein lei. 

Vier jaar later, op 19 Maart 1898, sterf Kaleshaan en word uit dieselfde kerkgebou begrawe.  As geëerde burger en oud Volkraadslid word hy met die nodige eerbewys op sy plaas Sterkspruit langs sy gade, wat hom 10 jaar vroeër ontval het, begrawe.

Kaleshaan sterf ‘n jaar voor die Tweede Vryheidsoorlog.  Daardie stoere pionier, wat saam met soveel ander hard gestry het en oneindig baie ellende moes verduur om ‘n onafhanklike en vrye volk te wees, sou genadiglik die verskriking van die oorlog nie aanskou nie.  Die vernieling van huis en haard, ‘n volk wat byna in konsentrasiekampe uitgewis is, volksgenote wat oorlopers word – die sogenaamde “Scouts” en ander ellende sou sekerlik van hom ‘n verslae en verbitterde mens gemaak het.


Pieter Willemze (Petrus Willem)



Petrus Willem Coetzer en eggenote, Anna Alida Petronella Coetzer neé Badenhorts


Petrus Willem, soos hy later bekend gestaan het, is gebore op 22 Mei 1828 in die Klaas-Smithsrivierwyk te Cradock.  Hy was slegs 8 jaar oud toe die Groot Trek begin het.  Saam met sy ouers en broers oorleef hy die ontberinge van die Groot Trek.  Toe die Coetsers in 1848 op Lydenburg aangekom het, was hy reeds ‘n jongman van 20 jaar.

Hy was ongeveer 1,75 meter lank, fris en stewig gebou.  Hy het ‘n paar yslike groot hande gehad en was so sterk soos ‘n bees.  Plaaswerk, veral bomenslike take, was vir hom kinderspeletjies en vir sy stiefvader, Jan Mathys de Beer, was hy inderdaad ‘n voorslag soos min.

Op die ouderdom van 24 jaar, in 1852, tree hy met Sara Maria Viljoen in die huwelik.  Sy skenk aan hom een dogter en twee seuns. 

In 1861 trou hy met Anna Alida Petronella Badenhorst.  Waar die egpaar hulle presies in die beginjare gevestig het, is nie bekend nie.  Dit wil voorkom of hulle vir ‘n tyd lank op Sterkspruit gebly het.

Petrus was lief om te jag en sy geliefkoosde jagveld was in die omgewing van die huidige Sabie en anderkant die Drakensberge oos van Lydenburg.  In daardie omgewing het hy dan ook sy droomplaas ontdek en het hy besluit om hom daar te vestig.  Staan ‘n mens by die Duiwel se Kneukels (op pad vanaf Lydenburg na Sabie), en jy kyk in ‘n suid-oostelike rigting, sien jy onder in die vallee die sprokiesplaas, Renosterhoek, wat eens aan Petrus Willem behoort het.

In daardie jare was wild volop, veral renosters.  Toe Petrus begin het om sy woonhuis te bou, het hy nogal heelwat las van die renosters gehad.  Skaars was die gebou vensterhoogte of ‘n trop renosters loop die plek storm en verpletter en vertrap alles wat voorkom.  Blykbaar het hulle die vreemde gewerskaf in hulle area nie verdra nie en maar kort-kort op daardie manier hulle gebied beveilig.  Eindelik, maande later, het Petrus daarin geslaag om hulle te verdryf en kon hy sy woonhuis voltooi.  Dit is dan ook na aanleiding van daardie befoeterde diere dat die plaas sy naam gekry het.

Petrus het in 1871 by die Volksraad aansoek gedoen om die plaas te koop.  Die nodige kennisgewing van die voorgenome koop het in die “Staats Courant” van 21 Februarie 1871 verskyn.  Geen beswaar het ingekom nie en Renosterhoek het die eiendom van Petrus geword.

Hy en die ander pioniers het die gebied getem en vir die nageslag leefbaar gemaak.  Hy en sy gade se stoflike oorskotte rus in die familiekerkhof op Renosterhoek.


Jan Petrus


Hierdie voorlaaste seun van Johannes Jacobus en Elsje Magdalena is ook in die Klaas-Smithsrivierwyk naby Cradock gebore.  In die Cradock-doopregistrasie is sy name aangeteken as Johannis Petrus en die geboortedatum as 15 Maart 1830.  Deur die jare heen het hy as Jan Petrus bekend gestaan en dieselfde name verskyn op die grafsteen.  Nog ‘n interessantheid is dat die geboortedatum op die grafsteen as 5.3.1830 aangegee word.

Daar bestaan weinig inligting oor hierdie broer van Kaleshaan.  In die politiek en kerksake het hy wel belangstelling getoon want sy naam verskyn van tyd tot tyd op versoekskrifte wat aan die Volksraad gerig is.

Hoe lank Jan Petrus op Sterkspruit gebly het is nie bekend nie.  Dit wil egter voorkom of hy om en by 1862 na Goedehoop verhuis het waar hy sy broer, Johannes Jacobus, met die boerdery gehelp het.

Ongeveer 1852 tree hy in die huwelik met Catharina Elizabeth Viljoen en die egpaar word met 4 seuns en 7 dogters geseën.  Sommige van sy nasate boer nog in die omgewing van Goedehoop en Lydenburg.  Een van sy kleinseuns, Gideon Petrus (met die kostelike bynaam van Number 9 and a half), is tans (Februarie 1987) woonagtig in die ouetehuis te Lydenburg.  Hy is 92 jaar oud en geniet nog goeie gesondheid.  Jan Petrus en sy gade se stoflike oorskotte rus in die familiekerkhof te Goedehoop.


Hendrik



Hendrik Coetser, jongste broer van Kaleshaan 

Hendrik Coetser se gade, Maria Magdalena Elizabeth Coetser neé Kruger

Hendrik was die jongste broer van Kaleshaan en is op Dinsdag 25 Oktober 1831 in die Klaas-Smithsrivierwyk naby Cradock gebore.  Hy het ook die ontberinge van die Trekke oorleef en toe die Coetsers op Sterkspruit aangeland het, was hy so om en by 18 jaar oud.  Hy was met Maria Magdalena Elizabeth Kruger getroud en die egpaar is met 5 seuns en 7 dogters geseën.  Twee van die dogters was ‘n tweeling.  Hendrik se seun, ook met die naam Hendrik, en sy gade het 2 tweelinge gehad.  Dit is nogal merkwaardig aangesien tweelinge in die Coetser-geledere ‘n rariteit is.

Hendrik het na sy troue naby Potloodspruit geboer.  Daar het hy die stene vir die nuwe kerkgebou gemaak.  Later verlaat hy Potloodspruit en woon vir ‘n tyd lank op Sterkspruit.  Hy was ‘n knaphandige man en het vir die tyd wat hy op Sterkspruit gewoon het, take as bouer onderneem.  Of daar nog van sy bouwerke te sien is, is moeilik om te bepaal.

Nog later verlaat hy Sterkspruit en vestig hom op Klipspruit waar hy tot sy dood gebly het.

Oor hierdie stamvader is daar min inligting beskikbaar.  Wat wel bekend is, is dat hy, soos sy ander broers, ook sy beskeie bydrae gelewer het om die wildernis te tem sodat dit vir die nageslag leefbaar kon wees.

In 1990 skenk Maria Magdalena Elizabeth, weduwee van Hendrik, ‘n stuk grond aan die Onderwysdepartement vir die oprigting van ‘n skool.  Dié skool is van klip gebou en in 1910 het die Onderwysopvoeding daar begin en word as sodanig nog vandag nog gebruik.

Gaan na die Inhoudsopgawe en kies die volgende hoofstuk wat u wil lees - http://coetserkaleshaan.blogspot.co.za/2015/12/inhoudsopgawe.html




2 comments:

  1. Netjies. Ek is so bly jy hou die familiegeskiedenis lewendig! Beste wense.

    ReplyDelete
  2. Dankie, Johann! Wens net ek het meer tyd gehad om die geskiedenis behoorlik na te vors en bymekaar te bring. Afgesien van wat my pa bymekaar gehark het, lyk alles vir my so verstrooid - kompleet soos 'n hand vol sand wat in die lug gegooi is en toe deur die wind geskep en verwaai is. Waar, vra ek jou, soek mens na al die korrels sand? Ag, en eintlik, behalwe vir die interessanthede wat hier en daar ontdek word, is dit so 'n mors van tyd om die verlede, en spesifiek 'n stamboom, te probeer orden. Wat maak dit nou eintlik saak wie was/is wie se oupa en oupagrootjie? Maar genealogie is mos soos legkaartbou - as jy eers begin, kan jou siel nie rus alvorens dit volledig klaar gebou is nie. Die verskil is egter dat genealogie blykbaar nie behoorlik gebou kan word nie - té veel dele het verlore gegaan. Maar nou ja... as die gogga eers gebyt het... (Ek beduie nou maar 'n kruis op my.)

    ReplyDelete