Pieter is gebore op 16 September 1853 op die plaas
Sterkspruit. Hy trou met Anna Dorothea Susanna Roodt. Die egpaar het 7 kinders.
Pieter het sy vader, Kaleshaan (Philippus Jeremia) met die boerdery gehelp en na sy troue op die plaas aangebly. Om ekstra geld te verdien het hy verskeie take verrig. Hy was veral handig met houtwerk en messelary. Omdat hy ’n paar inheemse tale magtig was, het hy ook dikwels in die hof as tolk opgetree.
Pieter, beter bekend as Pietie, was die spreekwoordelike
doodgoeie, ‘down-to-earth’ man en nogal lief vir sy sopie. Hoë geleerdheid het
hy nie gehad nie en hy was ook nie beroemd nie. Hy was egter welbekend vir sy
sin vir humor. Om iemand ’n poets te bak was skynbaar sy geliefkoosde
stokperdjie. Hoe ouer hy geword het, hoe vrypostiger het hy hierdie stokperdjie
beoefen. Hy het selfs begin geld vra (of ’n sopie of drie) wanneer iemand hom
gevra het om iemand anders ’n poets te bak.
Add caption |
Pietie se vrypostigheid het gelei tot ’n gemeenskaplike besluit van ’n paar van sy
vriende om hom ’n behoorlike les te leer. Twee van hulle het op ’n donker nag wit
lakens oor hulle koppe getrek en hom ingewag by die bruggie, halfpad tussen die
kroeg en die plaas. Dit was glo daar waar Pieter hom uit sy ongeloof in spoke
geskrik het en dit was ook die laaste keer dat hy daardie spesifieke pad terug
plaas toe aangedurf het.
By geleentheid het hy sy vriende gewed dat hy een
Sondagmore in die kerk die helfte van die mense teenwoordig sou laat sing en die
ander helfte sou laat lag.
Daar was geen orrel in die kerk nie en Pieter het dikwels
as voorsanger opgetree. Die betrokke oggend dan, nadat die predikant die gesang of psalm aangekondig het, het hy (Pieter),
wat min of meer in die middel van die kerk plaasgeneem het, aangehef
en die mense het
begin sing. Terwyl die gemeentelede hartlik gesing het, het hy omgedraai en vir
diegene agter hom gesigte getrek. Nodeloos om te sê dat hy die weddenskap gewen
het.
Die volgende episode was die een wat hom wyd en syd bekendheid
laat verwerf het en hom ook met die gereg laat bots het. Dit was om en by die
jaar 1922 en oom Pietie was al diep in sy sestigerjare toe 'n belangrike
hofsaak op die dorp plaasgevind het.
Daardie jare was die
watervoorsiening aan die erwe op die dorp deur middel van leivore wat langs die
strate geloop het. Dit is dan ook by een van daardie leivore waar die volgende
eposide, hier in versvorm beskryf, hom afgespeel het en oom Pietie die bynaam
van Pietie Kierietjie laat kry het.
Pietie
Kierietjie se Storie
Die dorp die gons, die mense is lustig aan’t praat –
Oral staan hulle rond in groepies langs die straat.
Oor die uitslag van die belangrike hofsaak
Het elkeen reeds sy eie mening opgemaak.
.
Ook oom Pietie is daar, kierie en al –
Die werk by die huis het hom glad nie geval.
Die aangeleentheid op die dorp is vir hom
’n goeie verskoning om ’n sopie te bekom.
.
Statig en viets soos dit ’n dame betaam,
kom SY die straat afgestap, taamlik vernaam.
SY gaan luister hoe haar gade ’n vonnis vel
om dit later by die tuinparty te vertel.
.
Toe die manne buite die kroeg haar gewaar
daal die stemme want daar staan hy klaar:
Oom Pietie met sy kierie en ewige lus
om hoog- en laagmoed met ’n poets te blus.
.
Vir ’n dop of twee word hy uitgedaag
om jou werklikwaar ’n poets op die dame te waag.
Sonder om twee keer te dink, bid jou dit aan,
stem hy toe in om nog ’n sotheid te begaan.
.
Al fluitende stap hy by haar verby
en laat aspres per ongeluk sy kierie gly –
reg in die pad van die dame se treë.
Sy wou nog keer, toe slaan sy neer.
.
Oom Pietie se verskoning is eg, glo my!
Hy probeer sy bes om haar uit die leivoor te kry.
Die dame stuur hom na die warm plek
waar Pietie aan die korste end gaan trek.
.
Haar dreigement is nie verniet;
Oom Poetsbakker word na die hof ontbied.
Kierie in die hand groet hy met deernis sy vrou;
vandag gaan hulle hom agter tralies hou.
.
Slagoffer se gade, die edele agbare, skel dat dit gons –
Oom Pietie luister met ’n hart wat bons.
Sonder twyfel is dit sy laaste dag –
Alleen gaan hy betaal vir vriende se gelag.
.
Die edele agbare bedaar; sy toorn is uitgewoed.
Maar vir sy daad moet oom Pietie boet –
’n Ernstige waarskuwing en hy laat hom gaan
maar die kierietjie moet in die kantoor bly staan.
.
Die dag daarna kyk die landdros verbaas
na oom Pietie wat na sy kierie haas.
Die hoed word afgehaal, die groet klink bly:
“Dag my kierietjie, het jy verlang na my?”
.
Die dagsêery hou aan vir ‘n week in die kantoor
en die landdros voel kapabel om oom Pietie te vermoor.
“Kyk,” sê hy oplaas, “ek kan dit nie meer verduur.
Neem jou kierietjie of ek smyt hom in die vuur.”
.
Oom Pietie is al lankal nie meer op aarde,
maar die mense lag nog steeds in hul baarde
oor die storie van die kierie en die watervoor
wat jy op die dorp maar telkens weer hoor.
- PJ Coetser
Oom
Pietie en sy gade slyt hulle laaste jare in 'n huis op die dorp. Vir hom was
dit belangrik om op die dorp te bly want hulle gesondheid het vinnig agteruit gegaan
en die dokter was binne loopafstand vanaf die huis.
Maar op 13 September
1935 sterf Anna Dorothea en word haar stoflike oorskot in die ou begraafplaas
op Lydenburg begrawe. Twee maande later, op 13 November 1935, sterf Pietie
Kierietjie en word ook hy in die ou
begraafplaas ter ruste gelê.
of kyk gou asseblief of jy een van Pieter Willem COETSER en Anna Dorothea Susanna Roodt se nasate is, en of jou gegewens korrek is, en of jy iemand ken wat ons uitgelaat het. Ons kort nog baie inligting!
Kyk na die volledige Coetzer/Coetser stamregister HIER:
http://coetzercoetser.weebly.com/family-tree--stamboom.html
b1c12d3e2f8. Pieter Willem (Piet Kierietjie) COETSER * 16.9.1853 †
13.11.1935 @ Lydenburg (slegs 2 maande ná sy wederhelfte) x Anna Dorothea Susanna ROODT * 1855 †
13.9.1935 @ Lydenburg
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Kyk na die volledige Coetzer/Coetser stamregister HIER:
http://coetzercoetser.weebly.com/family-tree--stamboom.html